Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 4:18-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. ’n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ’n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is;

19. dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die Here jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.

20. Maar die Here het julle geneem en julle uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.

21. Ook was die Here toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee nie.

22. Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.

23. Neem julle in ag dat julle die verbond van die Here julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie — ’n gelykenis van enigiets wat die Here jou God jou verbied het.

24. Want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.

25. As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ’n gesnede beeld maak, ’n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God om Hom te terg,

26. dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.

27. En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe.

28. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.

29. Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.

30. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister.

31. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.

32. Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 4