Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 3:13-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En die orige deel van Gílead saam met die hele Basan, die koninkryk van Og, het ek aan die halwe stam van Manasse gegee — die hele landstreek Argob. Daardie hele Basan word land van die Refaïete genoem.

14. Jaïr, die seun van Manasse, het die hele landstreek Argob tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete gekry en dit, naamlik Basan, na sy naam Jaïrsdorpe genoem tot vandag toe.

15. En aan Magir het ek Gílead gegee.

16. Maar aan die Rubeniete en die Gadiete het ek van Gílead af tot by die Arnonrivier gegee, die middel van die rivier, saam met sy oewerland, en tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon.

17. Daarby die Vlakte en die Jordaan, saam met sy grondgebied, van Kinnéret af tot by die See van die Vlakte, die Soutsee, onder aan die hange van Pisga teen die ooste.

18. Verder het ek in dié tyd aan julle bevel gegee en gesê: Die Here julle God het aan julle hierdie land gegee om dit in besit te neem; gewapend moet julle voor jul broers, die kinders van Israel, oortrek — al die dapper manne.

19. Net julle vroue en julle kinders en julle vee — ek weet dat julle baie vee het — kan in julle stede bly wat ek aan julle gegee het;

20. totdat die Here aan julle broers soos aan julle rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan sal gee; dan kan julle teruggaan elkeen na sy besitting wat ek aan julle gegee het.

21. Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die Here julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die Here aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek.

22. Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry.

23. Ook het ek die Here in dié tyd gesmeek en gesê:

24. Here, Here! Ú het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U?

25. Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!

26. Maar die Here het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die Here het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 3