Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 29:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete.

9. Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.

10. Julle staan vandag almal voor die aangesig van die Here julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters — al die manne van Israel;

11. julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,

12. om oor te gaan in die verbond van die Here jou God — en in sy eedswering — wat die Here jou God vandag met jou sluit;

13. sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ’n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het.

14. En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,

15. maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die Here onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.

16. Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.

17. En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,

18. sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die Here onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wildeals dra nie,

19. en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel — om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!

20. Die Here sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die Here en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die Here sal sy naam onder die hemel uitdelg.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 29