Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 29:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIT is die woorde van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.

2. En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die Here in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het,

3. die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders.

4. Maar die Here het julle nie ’n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.

5. En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet.

6. Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.

7. En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan

8. en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete.

9. Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.

10. Julle staan vandag almal voor die aangesig van die Here julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters — al die manne van Israel;

11. julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,

12. om oor te gaan in die verbond van die Here jou God — en in sy eedswering — wat die Here jou God vandag met jou sluit;

13. sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ’n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 29