Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 22:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En as jou broer nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy dit in jou huis neem, en dit moet by jou wees totdat jou broer dit soek; dan moet jy dit aan hom teruggee.

3. So moet jy ook doen met sy esel, en so moet jy doen met sy kleed, ja, so moet jy doen met alles wat van jou broer wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy mag jou nie verberg nie.

4. Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp.

5. ’n VROU mag geen mansklere dra nie, en ’n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God ’n gruwel.

6. As jy op pad ’n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie.

7. Jy moet die moeder sekerlik laat wegvlieg, maar die kleintjies mag jy vir jou neem, dat dit met jou goed kan gaan en jy die dae kan verleng.

8. As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ’n leuning aan jou dak maak, sodat jy geen bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.

9. Jy mag in jou wingerd nie twee soorte saad saai nie, anders verval die volle opbrings aan die heiligdom: die saad wat jy saai en die opbrings van die wingerd.

10. Jy mag nie met ’n os en ’n esel tegelyk ploeë nie.

11. Jy mag geen gemengde stof, wol en linne tegelyk, aantrek nie.

12. Klossies moet jy vir jou maak aan die vier hoeke van jou kleed waar jy jou mee toemaak.

13. AS ’n man ’n vrou neem en by haar ingaan en haar dan haat

14. en haar slegte dinge nagee en ’n slegte gerug oor haar versprei en sê: Hierdie vrou het ek geneem, en toe ek naby haar kom, het ek die maagdom nie aan haar gevind nie,

15. dan moet die vader en die moeder van die dogter die bewys van die dogter se maagdom neem en na die oudstes van die stad by die poort uitbring.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 22