Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 18:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE Levitiese priesters, die hele stam van Levi, mag geen deel of erfenis saam met Israel hê nie; van die vuuroffers van die Here en van sy erfdeel moet hulle eet.

2. En hy mag geen erfdeel hê onder sy broers nie; die Here is sy erfdeel soos Hy hom beloof het.

3. En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ’n slagoffer bring, of dit ’n bees of ’n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee.

4. Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee.

5. Want die Here jou God het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die Here, hy en sy seuns.

6. En as ’n Leviet uit een van jou poorte kom, uit die hele Israel waar hy as vreemdeling vertoef, en hy na hartelus kom na die plek wat die Here sal uitkies,

7. dan moet hy dien in die Naam van die Here sy God soos al sy broers, die Leviete, wat daar voor die aangesig van die Here staan;

8. ’n gelyke aandeel moet hulle geniet, behalwe wat hy verkoop volgens familiebesit.

9. AS jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.

10. Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan — wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie,

11. of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.

12. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die Here jou God hulle voor jou uit.

13. Opreg moet jy wees met die Here jou God.

14. Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie.

15. ’n PROFEET uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister —

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 18