Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 11:8-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Onderhou dan al die gebooie wat ek jou vandag beveel, dat julle sterk kan wees en inkom en die land in besit neem waarheen julle oortrek om dit in besit te neem,

9. en dat julle die dae kan verleng in die land wat die Here aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle en hul nageslag te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning.

10. Want die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet, soos ’n groentetuin, natgelei het nie.

11. Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ’n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink;

12. ’n land waar die Here jou God voor sorg; die oë van die Here jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.

13. As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel,

14. dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.

15. En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word.

16. Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig,

17. en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die Here julle gee.

18. Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ’n teken op julle hand en laat dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë wees,

19. en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;

20. en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte,

21. sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die Here aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.

22. Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat ek julle beveel, om dit te doen deur die Here julle God lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te hang,

23. dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uit verdrywe, en julle sal groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe.

24. Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees.

25. Niemand sal teen julle standhou nie; die Here julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 11