Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 1:35-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ’n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie —

36. behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die Here te volg.

37. Ook was die Here toornig op my om julle ontwil, sodat Hy gesê het: Jy sal daar ook nie inkom nie.

38. Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan — hý sal daar inkom; versterk hom, want hý sal Israel dit laat beërwe.

39. En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal ’n buit word! en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie — húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem.

40. Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn op pad na die Skelfsee.

41. Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die Here gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die Here onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek,

42. het die Here vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie — want Ek is nie in julle midde nie — dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie.

43. Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die Here en het vermetel in die gebergte opgetrek.

44. Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma.

45. En julle het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween, maar die Here het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie.

46. So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 1