Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 1:3-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die Here ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het;

4. nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan, wat in Ástarot gewoon het, in Edréï verslaan het.

5. Oos van die Jordaan in die land Moab het Moses onderneem om hierdie wet te verklaar deur te sê:

6. Die Here onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus — die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.

8. Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die Here aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.

9. En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie.

10. Die Here julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.

11. Mag die Here, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het!

12. Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra?

13. Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.

14. Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.

15. Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.

16. En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ’n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.

17. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 1