Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:5-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

6. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.

7. Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.

8. Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.

9. By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan

10. en na die stem van die Here onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.

11. Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig.

12. En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie;

13. soos in die wet van Moses geskrywe is — al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die Here onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.

14. Daarom was die Here wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die Here onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie.

15. Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met ’n sterke hand uitgelei en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos.

16. o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk ’n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.

Lees volledige hoofstuk Daniël 9