Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:9-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En uit een van dié het ’n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.

10. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.

11. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.

12. En ’n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.

13. Toe hoor ek ’n heilige spreek; en ’n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur — van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid — sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?

14. En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.

15. En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos ’n man gelyk het.

16. En ek het ’n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!

17. Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.

18. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig

19. en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.

20. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.

21. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.

22. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het — vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.

23. Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ’n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.

24. En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.

Lees volledige hoofstuk Daniël 8