Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:5-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Terwyl ek daarop ag gee, kom daar ’n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het ’n aansienlike horing tussen sy oë gehad.

6. En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.

7. En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.

8. En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.

9. En uit een van dié het ’n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.

10. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.

11. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.

12. En ’n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.

13. Toe hoor ek ’n heilige spreek; en ’n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur — van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid — sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?

Lees volledige hoofstuk Daniël 8