Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, ’n gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het.

2. Ek het naamlik in die gesig gesien — terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam lê; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het.

3. En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan ’n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.

4. Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.

5. Terwyl ek daarop ag gee, kom daar ’n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het ’n aansienlike horing tussen sy oë gehad.

6. En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.

7. En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.

8. En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.

9. En uit een van dié het ’n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.

Lees volledige hoofstuk Daniël 8