Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:14-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word.

15. Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie.

16. Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak; as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met purper beklee word, en ’n goue ketting sal daar om jou hals wees, en jy sal as derde in rang in die koninkryk heers.

17. Toe het Daniël geantwoord en voor die koning gesê: U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan ’n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak.

18. Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee.

19. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder.

20. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem.

21. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil.

22. Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet;

Lees volledige hoofstuk Daniël 5