Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Daniël het hy Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo.

8. En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.

9. En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.

10. En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?

11. Maar Daniël het aan die bediende gesê wat die owerste van die hofdienaars oor Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja aangestel het:

12. Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink;

13. laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees.

14. Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel.

15. En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het.

16. So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee.

17. En hierdie vier jong seuns — God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.

18. En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring.

19. En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die koning gedien.

20. En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.

21. En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.

Lees volledige hoofstuk Daniël 1