Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 3:8-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie?

9. Roep dit uit oor die paleise van Asdod en oor die paleise van Egipteland en sê: Versamel julle op die berge van Samaría, en aanskou die groot beroering in die midde van die stad en die verdrukking daarbinne.

10. Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die Here — hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise.

11. Daarom, so sê die Here Here: ’n Vyand! En dit rondom die land; en hy sal jou vesting van jou af neerwerp, en jou paleise sal geplunder word.

12. So sê die Here: Soos ’n herder ’n paar pote of ’n oorlappie red uit die bek van ’n leeu, net so sal gered word die kinders van Israel wat daar in Samaría in die hoek van ’n bed of op die damás van ’n rusbank sit.

13. Hoor en waarsku die huis van Jakob, spreek die Here Here, die God van die leërskare,

14. dat Ek in die dag as Ek die oortredinge van Israel aan hom besoek, ook besoeking sal doen oor die altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar afgekap sal word en op die grond val.

15. Dan sal Ek die winterhuis saam met die somerhuis tref, en die huise van ivoor sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Amos 3