Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daar was ’n lang oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, en Dawid het altyd sterker geword, maar die huis van Saul altyd swakker.

2. EN vir Dawid is daar seuns in Hebron gebore. En sy eersgeborene was Amnon, by Ahínoam uit Jísreël;

3. en sy tweede was Kíleab, by Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet; en die derde was Absalom, die seun van Máäga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur;

4. en die vierde Adónia, die seun van Haggit; en die vyfde Sefátja, die seun van Abítal;

5. en die sesde Jítream, by Egla, die vrou van Dawid. Hulle is vir Dawid in Hebron gebore.

6. EN onderwyl daar oorlog was tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, was Abner besig om homself te versterk in die huis van Saul.

7. Saul het naamlik ’n byvrou gehad wie se naam Rispa was, die dogter van Aja; en Isbóset het vir Abner gesê: Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan?

8. Toe word Abner baie kwaad oor die woorde van Isbóset en sê: Is ek dan die hondskop wat aan Juda behoort? Vandag bewys ek guns aan die huis van Saul, jou vader, aan sy broers en aan sy vriende; en ek het jou nie in die hand van Dawid laat raak nie, en tog verwyt jy my vandag die oortreding met ’n vrou?

9. Mag God so aan Abner doen en so daaraan toedoen, sekerlik, soos die Here Dawid met ’n eed beloof het, net so sal ek aan hom doen

10. deur die koningskap aan die huis van Saul te ontneem en die troon van Dawid op te rig oor Israel en oor Juda, van Dan tot Berséba.

11. En hy kon Abner verder geen antwoord gee nie, omdat hy vir hom bang was.

12. Daarop het Abner boodskappers na Dawid in sy plek gestuur om te sê: Aan wie behoort die land? en: Sluit u verbond met my; en kyk, my hand sal met u wees om die hele Israel na u toe oor te bring.

13. En hy het gesê: Goed, ék sal met u ’n verbond sluit, maar een ding eis ek van u, naamlik: U mag my aangesig nie sien nie, of u moet eers Migal, die dogter van Saul, saambring as u kom om my aangesig te sien.

14. Dawid het ook boodskappers gestuur na Isbóset, die seun van Saul, om te sê: Gee my vrou Migal met wie ek my verloof het vir honderd voorhuide van die Filistyne.

15. En Isbóset het gestuur en haar van die man, van Páltiël, die seun van Lais, afgeneem.

16. En haar man het saam met haar gegaan, terwyl hy agter haar aan loop en ween tot by Bahúrim. Toe sê Abner vir hom: Gaan terug. En hy het teruggegaan.

17. En Abner het met die oudstes van Israel onderhandel en gesê: Gister sowel as eergister het julle aldeur Dawid as koning oor julle begeer.

18. Voer dit dan nou uit, want die Here het van Dawid gespreek en gesê: Deur die hand van my kneg Dawid sal Ek my volk Israel uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande verlos.

19. En Abner het ook voor die ore van Benjamin gespreek; en Abner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hebron te spreek alles wat goed was in die oë van Israel en in die oë van die hele huis van Benjamin.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3