Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 23:11-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En ná hom was Samma, die seun van Age, die Harariet. Toe die Filistyne by Legi bymekaarkom, waar ’n stuk land was vol lensies en die volk vir die Filistyne gevlug het,

12. het hy hom opgestel in die middel van die stuk land en dit afgeneem en die Filistyne verslaan, sodat die Here ’n groot oorwinning bewerk het.

13. En drie van die dertig hoofde het afgetrek en teen die oestyd by Dawid by die spelonk van Adúllam aangekom, terwyl ’n hoop Filistyne in die laer staan in die dal Refáim.

14. En Dawid was toe in die bergvesting; en ’n besetting van die Filistyne was toe in Betlehem.

15. En Dawid het ’n begeerte voel opkom en gesê: Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?

16. Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die Here uitgegiet

17. en gesê: Dit is ver van my, Here, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het? En hy wou dit nie drink nie. Dit het die drie helde gedoen.

18. En Abísai, die broer van Joab, die seun van Serúja, hy was hoof van die drie, en hy het sy spies geswaai oor driehonderd wat gesneuwel het, en het ’n naam gehad onder die drie.

19. Was hy onder die drie nie geëer nie? sodat hy hulle owerste geword het, maar tot by die eerste drie het hy nie gekom nie.

20. Verder Benája, die seun van Jójada, ’n sterk man, groot van daad, uit Kábseël; hy het die twee groot helde van Moab verslaan; en hy het afgegaan en ’n leeu binne-in ’n kuil doodgeslaan op ’n sneeudag.

21. Hy het ook ’n Egiptenaar verslaan, ’n mooi man; en in die hand van die Egiptenaar was ’n spies; maar hy het na hom afgegaan met ’n stok en die spies uit die hand van die Egiptenaar geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.

22. Dit het Benája, die seun van Jójada, gedoen; en hy het ’n naam gehad onder die drie helde.

23. Hy was geëerd onder die dertig, maar tot by die drie het hy nie gekom nie; en Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.

24. Ásahel, die broer van Joab, was onder die dertig; Élhanan, die seun van Dodo, uit Betlehem;

25. Samma, die Harodiet; Elíka, die Harodiet;

26. Heles, die Paltiet; Ira, die seun van Ikkes, die Tekoïet;

27. Abiëser, die Anatotiet; Mebunnái, die Husatiet;

28. Salmon, die Ahohiet; Máharai, die Netofatiet;

29. Heleb, die seun van Baäna, die Netofatiet; Íttai, die seun van Ríbai, uit Gíbea van die kinders van Benjamin;

30. Benája, die Pirhatoniet; Híddai, uit Nahale-Gaäs;

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 23