Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En hulle het gekom en hom in Abel-Bet-Máäga beleër en ’n wal teen die stad opgegooi, wat teen die voorskans opgerys het. Terwyl al die manskappe van Joab besig was met verwoes om die muur te laat val,

16. roep ’n wyse vrou uit die stad: Luister, luister! Sê tog vir Joab: Kom hierheen, dat ek met u kan spreek.

17. En toe hy nader kom na haar, sê die vrou: Is u Joab? En hy antwoord: Ja. En sy sê vir hom: Hoor die woorde van u dienares. En hy antwoord: Ek hoor.

18. Daarop spreek sy en sê: Vroeër was hulle gewoond om só te sê: Laat hulle Abel maar net raadpleeg! en so het hulle ’n saak afgehandel.

19. Ek is een van die vredeliewendes, van die getroues in Israel. U is daarop uit om ’n stad te vernietig, nogal ’n moeder in Israel. Waarom wil u die erfdeel van die Here te gronde rig?

20. En Joab antwoord en sê: Dit is ver, ver van my, dat ek te gronde sou rig en dat ek sou verwoes!

21. Die saak is nie so nie; maar ’n man van die gebergte van Efraim met die naam van Seba, die seun van Bigri, het sy hand opgehef teen die koning, teen Dawid: lewer hom alleen uit, dan wil ek van die stad af wegtrek. En die vrou sê vir Joab: Kyk, sy hoof sal oor die muur na u toe gegooi word.

22. En die vrou het haar in haar wysheid tot die hele volk gewend, en hulle het die hoof van Seba, die seun van Bigri, afgekap en na Joab oorgegooi. Toe het hy op die ramshoring geblaas, en hulle is verstrooi, weg van die stad af, elkeen na sy tente; en Joab het na Jerusalem, na die koning teruggegaan.

23. En Joab was oor die hele leër van Israel, en Benája, die seun van Jójada, oor die Kreti en oor die Pleti;

24. en Adóram was oor die dwangarbeid, en Jósafat, die seun van Ahílud, was kanselier.

25. En Seja was skrywer; en Sadok en Ábjatar priesters.

26. En ook Ira, die Jaïriet, was priester by Dawid.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 20