Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:7-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En Húsai sê vir Absalom: Die raad wat Agitófel hierdie keer gegee het, is nie goed nie.

8. Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader ’n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie.

9. Kyk, nou het hy hom weggesteek in een van die kuile of in een van die ander plekke, en as daar al by die begin enkele onder hulle val en die mense dit hoor, sal hulle sê: Die manskappe wat Absalom volg, het ’n neerlaag gely!

10. Dan sal selfs hy wat ’n dapper man is, wat ’n hart het soos ’n leeu se hart, heeltemal versmelt; want die hele Israel weet dat u vader ’n held is, en dat dapper manne by hom is.

11. Maar ek raai aan: Laat die hele Israel van Dan tot Berséba, soos sand wat aan die seestrand is in menigte, voltallig by u versamel word; en u moet persoonlik in die stryd trek.

12. En as ons by hom kom in een van die plekke waar hy hom bevind, dan val ons op hom neer soos dou op die aarde val, sodat daar van hom en van al die manne wat by hom is, selfs nie een oorbly nie.

13. En as hy hom in ’n stad terugtrek, moet die hele Israel toue aanbring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep na die spruit totdat daar selfs geen klippie meer te vinde is nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17