Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en Absalom het elkeen wat ’n saak gehad het om na die koning te kom vir regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U dienaar is uit een van die stamme van Israel —

3. dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie.

4. Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ’n geskil of regsaak het, na mý kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied.

5. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.

6. Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.

7. En ná verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die Here gedoen het, in Hebron betaal;

8. want u dienaar het ’n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en gesê: As die Here my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die Here dien.

9. Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na Hebron gegaan.

10. Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron!

11. En uit Jerusalem het tweehonderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het.

12. Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, ’n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.

13. Toe daar dan ’n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan —

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15