Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Die ryke het ’n groot menigte kleinvee en beeste gehad,

3. maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos ’n dogter.

4. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het.

5. En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe!

6. En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.

7. Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die Here, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul;

8. en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg.

9. Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.

10. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.

11. So sê die Here: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.

12. Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.

13. En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die Here! En Natan sê vir Dawid: So het die Here dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12