Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:1-7 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAAROM het die Here Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir hom: Daar was twee manne in ’n sekere stad, die een was ryk en die ander arm.

2. Die ryke het ’n groot menigte kleinvee en beeste gehad,

3. maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos ’n dogter.

4. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het.

5. En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe!

6. En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.

7. Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die Here, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul;

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12