Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:6-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte van u buitengewone wysheid is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het.

7. Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor!

8. Geloofd sy die Here u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die Here u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen.

9. Verder het sy aan die koning honderd-en-twintig talente goud en ’n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; en daar was nooit soveel speserye as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie.

10. Maar ook die dienaars van Huram en die dienaars van Salomo wat goud uit Ofir gebring het, het sandelhout en edelgesteentes aangevoer.

11. En die koning het van die sandelhout trappe vir die huis van die Here en vir die huis van die koning gemaak, en siters en harpe vir die sangers; en die gelyke daarvan is tevore in die land Juda nie gesien nie.

12. En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, wat sy maar gevra het, bo wat sý na die koning gebring het. Daarop het sy teruggekeer en na haar land getrek, sy en haar dienaars.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9