Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Maar Ek het Jerusalem verkies, dat my Naam daar sou wees, en Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.

7. Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om ’n huis te bou vir die Naam van die Here, die God van Israel,

8. het die Here aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam ’n huis te bou — daarin het jy goed gehandel dat dit in jou hart was.

9. Alleen maar, jý sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.

10. En die Here het sy woord vervul wat Hy gespreek het; sodat ek opgestaan het in die plek van my vader Dawid, en ek sit op die troon van Israel soos die Here gespreek het; en ek het die huis gebou vir die Naam van die Here, die God van Israel,

11. en die ark waarin die verbond van die Here is, wat Hy met die kinders van Israel gesluit het, daar neergesit.

12. Toe het hy gaan staan voor die altaar van die Here teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei;

13. want Salomo het ’n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei

14. en gesê: Here, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,

15. wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is.

16. Hou nou ook, Here, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit ’n man voor my aangesig ontbreek wat sal sit op die troon van Israel nie, as jou seuns net op hulle weg ag gee, deur te wandel in my wet soos jy voor my aangesig gewandel het.

17. Laat dan nou, Here, God van Israel, u woord tog bewaarheid word wat U tot u kneg Dawid gespreek het.

18. Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6