Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:19-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur,

20. en die koning het bevel gegee aan Hilkía en Ahíkam, die seun van Safan, en Abdon, die seun Miga, en Safan, die skrywer, en Asája, die dienaar van die koning, en gesê:

21. Gaan raadpleeg die Here vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die Here wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die Here nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.

22. Toe gaan Hilkía en die wat die koning gestuur het, na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tokhat, die seun van Hasra, die klerebewaarder — sy het in Jerusalem in die Nuwe Stad gewoon — en hulle het so met haar gespreek.

23. Toe sê sy aan hulle: So spreek die Here, die God van Israel: Sê aan die man wat julle na my gestuur het,

24. so spreek die Here: Kyk, Ek bring ’n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die vervloekinge wat geskrywe staan in die boek wat hulle aan die koning van Juda voorgelees het.

25. Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my grimmigheid oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie.

26. Maar aan die koning van Juda wat julle stuur om die Here te raadpleeg, aan hom moet julle só sê: So spreek die Here, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het —

27. omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van God verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34