Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:27-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die Here en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.

28. En die hele vergadering het hulle neergebuig, en die gesang het weerklink en die trompette geblaas — dit alles totdat die brandoffer verby was.

29. En toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.

30. Daarop gee koning Jehiskía en die owerstes aan die Leviete bevel om die Here te prys met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener; en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid.

31. En Jehiskía het begin sê: Nou het julle jul aan die Here gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die Here. Die vergadering het toe slagoffers en lofoffers gebring, en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers.

32. En die getal van die brandoffers wat die vergadering gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme, tweehonderd lammers; dit alles as ’n brandoffer aan die Here.

33. En die heilige gawes was seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee.

34. Net die priesters was te min en kon nie al die brandoffers afslag nie; maar hulle broers, die Leviete, het hulle ondersteun, totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself geheilig het; want die Leviete was opregter van hart om hulleself te heilig as die priesters.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29