Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:12-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Toe het daar manne uit die hoofde van die kinders van Efraim opgetree teen die wat uit die stryd kom: Asárja, die seun van Jóhanan, Berégja, die seun van Mesíllemot, en Jehiskía, die seun van Sallum, en Amása, die seun van Hádlai,

13. en aan hulle gesê: Julle mag die gevangenes nie hierheen bring nie; want julle dink om by ons sondes en by ons skuld nog by te voeg, sodat ons skuldig sou staan voor die Here; want ons skuld is groot, en die toorngloed is oor Israel.

14. Die gewapendes het toe die gevangenes en die buit voor die owerstes en die hele vergadering losgelaat.

15. En die manne wat met hulle naam aangewys was, het opgestaan en die gevangenes ondersteun en al die naaktes onder hulle uit die buit klere aangetrek; en hulle het aan hulle klere en skoene gegee en hulle laat eet en drink en hulle gesalf en almal wat moeg was, op esels vervoer en na Jérigo, die palmstad, by hul broers gebring; daarna het hulle na Samaría teruggegaan.

16. In dieselfde tyd het koning Agas na die konings van Assirië gestuur dat hulle hom moet help.

17. Bowendien het ook die Edomiete gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.

18. Ook die Filistyne het plundertogte onderneem teen die stede van die Laeveld en die Suidland van Juda; en hulle het ingeneem: Bet-Semes en Ájalon en Géderot en Sogo met sy onderhorige plekke en Timna met sy onderhorige plekke en Gimso met sy onderhorige plekke, en daarin gaan woon;

19. want die Here het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die Here gehandel het.

20. En Tilgat-Pilnéser, die koning van Assirië, het hom oorval en hom in benoudheid gebring en hom nie gehelp nie;

21. want Agas het die huis van die Here en die huis van die koning en van die owerstes geplunder, en dit aan die koning van Assirië gegee sonder dat dit hom tot hulp was.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28