Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:14-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hy antwoord: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word.

15. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?

16. Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die Here het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.

17. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil?

18. Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die Here: Ek het die Here sien sit op sy troon, terwyl al die hemelse leërskare aan sy regter- en sy linkerhand staan.

19. En die Here het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.

20. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die Here staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die Here vra hom: Waarmee?

21. En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.

22. En nou, kyk, die Here het ’n leuengees in die mond van hierdie profete van u gegee, terwyl die Here tog onheil oor u gespreek het.

23. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Langs watter weg het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18