Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe Jósafat rykdom en eer in oorvloed gehad het, het hy hom verswaer met Agab.

2. En ná verloop van enkele jare het hy afgetrek na Agab, na Samaría, en Agab het vir hom en die manskappe wat by hom was, skape en beeste in menigte geslag en hom aangehits om teen Ramot in Gílead op te trek.

3. Toe sê Agab, die koning van Israel, vir Jósafat, die koning van Juda: Sal u met my saam na Ramot in Gílead trek? En hy antwoord hom: Ek is soos u, en my volk soos u volk, en ons sal saam met u in die oorlog wees.

4. Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die Here.

5. Toe laat die koning van Israel die profete, vierhonderd man, bymekaarkom en sê vir hulle: Sal ons teen Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op, en God sal dit in die hand van die koning gee.

6. Maar Jósafat sê: Is hier nie nog ’n profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?

7. En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om die Here deur hom te raadpleeg; maar ék haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil; dit is Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so spreek nie!

8. Daarop roep die koning van Israel ’n hofdienaar en sê: Gaan haal gou vir Miga, die seun van Jimla.

9. Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy troon sit, beklee met koninklike klere, en hulle op ’n dorsvloer sit by die ingang van die poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer,

10. het Sedekía, die seun van Kenáäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die Here: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.

11. En so het al die profete geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18