Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die profete-seuns het vir Elísa gesê: Kyk tog, die plek waar ons voor u woon, is vir ons te nou.

2. Laat ons tog na die Jordaan gaan en elkeen daarvandaan ’n balk gaan haal, dat ons daar vir ons ’n plek kan maak om daar te woon. En hy het gesê: Gaan.

3. Maar een sê: Gaan tog asseblief saam met u dienaars. En hy antwoord: Ek sal gaan.

4. En hy het saam met hulle gegaan. En toe hulle by die Jordaan kom, het hulle bome omgekap.

5. Maar terwyl een die balk kap, val die yster in die water; en hy roep uit en sê: Ag, my heer, dit is nogal geleen!

6. En die man van God vra: Waar het dit geval? En toe hy hom die plek wys, het hy ’n stok afgesny en dit daarheen gegooi en die yster bo laat drywe.

7. En hy sê: Haal dit nou maar uit! En hy het sy hand uitgesteek en dit geneem.

8. Terwyl die koning van Aram besig was om oorlog te voer teen Israel, het hy met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op dié en dié plek sal my laer staan.

9. Maar die man van God het die koning van Israel laat weet: Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs trek daarheen af.

10. Daarom het die koning van Israel na die plek gestuur waarvan die man van God met hom gespreek en waarvoor hy hom gewaarsku het. En hy was daar op sy hoede, nie net een maal of twee maal nie.

11. Toe word die hart van die koning van Aram hieroor onrustig, en hy roep sy dienaars en sê vir hulle: Kan julle my nie te kenne gee wie van ons mense vir die koning van Israel is nie?

12. En een van sy dienaars antwoord: Nee, my heer die koning, maar Elísa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6