Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:24-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Toe saal sy die esel op en sê aan haar dienaar: Jaag aan en gaan voort; hou my nie op in die ry nie, behalwe as ek jou sê.

25. Sy het dan weggegaan en by die man van God op die berg Karmel gekom. Sodra die man van God haar op ’n afstand sien, sê hy aan sy dienaar Gehási: Kyk, daar is dié Sunamitiese vrou!

26. Loop haar nou tog tegemoet en sê vir haar: Gaan dit goed met u? Gaan dit goed met u man? Gaan dit goed met u kind? En sy antwoord: Goed.

27. Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete gegryp. En Gehási het aangekom om haar weg te stoot; maar die man van God sê: Laat haar staan, want haar siel is bitter bedroef in haar, en die Here het dit vir my verberg en my dit nie meegedeel nie.

28. En sy sê: Het ek van my heer ’n seun gevra? Het ek nie gesê: Moet my nie mislei nie?

29. En hy sê vir Gehási: Gord jou heupe en neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand teëkom, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie; en lê my staf op die gesig van die seun.

30. Maar die moeder van die seun sê: So waar as die Here leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hy het opgestaan en agter haar aan geloop.

31. En Gehási het voor hulle uit gegaan en die staf op die gesig van die seun gelê; maar daar was geen stem en geen opmerksaamheid nie. Daarop gaan hy terug hom tegemoet en bring hom die berig en sê: Die seun het nie wakker geword nie.

32. En toe Elísa in die huis kom, was die seun dood, neergelê op sy bed!

33. En hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegesluit en tot die Here gebid.

34. Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword.

35. Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak.

36. Toe roep hy Gehási en sê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy by hom gekom het, sê hy: Tel jou seun op.

37. En sy het ingekom en voor sy voete geval en na die aarde gebuig; en sy het haar seun opgetel en uitgegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4