Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Maar die leër van die Chaldeërs het die koning agternagejaag en hom in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi.

6. Toe vang hulle die koning en bring hom op na die koning van Babel, na Ribla toe, en hulle het vonnis oor hom uitgespreek.

7. En hulle het die seuns van Sedekía voor sy oë geslag. En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings gebind en hom na Babel gebring.

8. En in die vyfde maand, op die sewende van die maand — dit was die negentiende jaar van koning Nebukadnésar, die koning van Babel — het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babel, in Jerusalem gekom.

9. En hy het die huis van die Here en die huis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem, ja, elke groot huis met vuur verbrand.

10. En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom omgegooi.

11. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.

12. Maar uit die armes van die land het die owerste van die lyfwag sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.

13. Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die Here was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die Here was, stukkend gebreek en die koper daarvan na Babel weggevoer.

14. Ook het hulle weggeneem die potte en skoppe en messe en rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.

15. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die vuurpanne en die komme — wat van pure goud en van pure silwer was —

16. die twee pilare, die een see en die afspoelwaentjies wat Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

17. Die hoogte van een pilaar was agttien el, en ’n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van die kapiteel was drie el; met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met die vlegwerk.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25