Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:10-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom omgegooi.

11. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.

12. Maar uit die armes van die land het die owerste van die lyfwag sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.

13. Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die Here was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die Here was, stukkend gebreek en die koper daarvan na Babel weggevoer.

14. Ook het hulle weggeneem die potte en skoppe en messe en rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.

15. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die vuurpanne en die komme — wat van pure goud en van pure silwer was —

16. die twee pilare, die een see en die afspoelwaentjies wat Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

17. Die hoogte van een pilaar was agttien el, en ’n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van die kapiteel was drie el; met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met die vlegwerk.

18. Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters.

19. En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en vyf man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was, en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens oproep, en sestig man van die mense van die land wat in die stad aanwesig was.

20. Toe Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, hulle neem, het hy hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring.

21. En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. En Juda is uit sy land in ballingskap weggevoer.

22. En wat die mense betref wat in die land Juda oorgebly het, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, laat agterbly het, oor hulle het hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, aangestel.

23. En toe al die owerstes van die leërs, hulle en die manne, hoor dat die koning van Babel Gedálja aangestel het, kom hulle na Gedálja, na Mispa, naamlik: Ismael, die seun van Netánja, en Jóhanan, die seun van Karéag, en Serája, die seun van Tánhumet, die Netofatiet, en Jaäsánja, die seun van die Maägatiet, hulle met hul manne.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25