Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22:4-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Gaan op na Hilkía, die hoëpriester, en laat hy die geld optel wat in die huis van die Here gebring is, wat die drumpelwagters versamel het uit die volk,

5. en laat hulle dit oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel is oor die huis van die Here, sodat hulle dit kan gee aan die wat die werk doen, wat in die huis van die Here is om die bouvallige plekke van die huis te herstel,

6. aan die skrynwerkers en bouers en messelaars, en om hout en gekapte klippe te koop om die huis te herstel.

7. Maar daar is nie met hulle afgereken oor die geld wat in hulle hand gegee is nie, want hulle het met getrouheid gehandel.

8. Toe sê die hoëpriester Hilkía vir Safan, die skrywer: Ek het die wetboek in die huis van die Here gevind; en Hilkía het die boek aan Safan gegee, en hy het dit gelees.

9. Daarna het Safan, die skrywer, by die koning gekom en die koning antwoord gebring en gesê: U dienaars het die geld uitgeskud wat in die huis te vinde was, en dit oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel is oor die huis van die Here.

10. Daarop gee Safan, die skrywer, die koning te kenne en sê: Die priester Hilkía het my ’n boek gegee. En Safan het dit aan die koning voorgelees.

11. En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur;

12. en die koning het bevel gegee aan Hilkía, die priester, en Ahíkam, die seun van Safan, en Agbor, die seun van Migája, en Safan, die skrywer, en Asája, die dienaar van die koning, en gesê:

13. Gaan raadpleeg die Here vir my en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind is; want die grimmigheid van die Here is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek om te handel volgens alles wat ons voorgeskrywe is nie.

14. Toe gaan die priester Hilkía en Ahíkam en Agbor en Safan en Asája na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder — sy het in Jerusalem in die Nuwe Stad gewoon — en hulle het met haar gespreek.

15. En sy sê aan hulle: So spreek die Here, die God van Israel: Sê aan die man wat julle na my gestuur het —

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 22