Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe die Here Elía in ’n storm na die hemel sou opneem, het Elía met Elísa uit Gilgal uitgegaan.

2. En Elía het vir Elísa gesê: Bly tog hier, want die Here stuur my na Bet-el. Maar Elísa het gesê: So waar as die Here leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle het na Bet-el afgegaan.

3. Toe gaan die profete-seuns wat in Bet-el was, na Elísa uit en vra hom: Weet u dat die Here vandag u heer van u hoof sal wegneem? En hy antwoord: Ek weet dit ook; bly stil.

4. En Elía sê vir hom: Elísa, bly tog hier, want die Here stuur my na Jérigo. Maar hy sê: So waar as die Here leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle het in Jérigo aangekom.

5. Daarop kom die profete-seuns wat in Jérigo was, na Elísa toe aan en vra hom: Weet u dat die Here vandag u heer van u hoof sal wegneem? En hy antwoord: Ek weet dit ook; bly stil.

6. En Elía sê vir hom: Bly tog hier, want die Here stuur my na die Jordaan. Maar hy sê: So waar as die Here leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle twee het gegaan.

7. En vyftig man van die profete-seuns het geloop en op ’n afstand eenkant gestaan, terwyl hulle twee by die Jordaan staan.

8. Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het.

9. En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog ’n dubbele deel van u gees op my kom.

10. En hy sê: Jy het ’n harde saak begeer. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie.

11. En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ’n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.

12. En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2