Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 19:20-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Toe laat Jesaja, die seun van Amos, Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het insake Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.

21. Dit is die woord wat die Here oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.

22. Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!

23. Deur jou boodskappers het jy die Here gesmaad en gesê: Met die menigte van my waens het ék die hoogte van die berge opgeklim, die uithoeke van die Líbanon, en ek het sy statige seders, die keur van sy sipresse, omgekap en deurgedring tot in sy diepste skuilhoeke, sy bos wat is soos ’n tuin.

24. Ék het gegrawe en vreemde waters gedrink, en met my voetsole laat ek al die Nylstrome van Egipte opdroog.

25. Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit gereedgemaak, van die dae van die voortyd af beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede kon verwoes tot puinhope.

26. En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras op die dakke en brandkoring voordat dit are skiet.

27. Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.

28. Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.

29. En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.

30. Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 19