Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:11-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En hulle het daar offerrook laat opgaan, op al die hoogtes, soos die nasies wat die Here voor hulle uit weggevoer het, en verkeerde dinge gedoen om die Here te terg.

12. En hulle het die drekgode gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie.

13. En die Here het Israel en Juda gewaarsku deur die diens van elke profeet en elke siener en gesê: Bekeer julle van jul verkeerde weë en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur die diens van my diensknegte, die profete, vir julle gestuur het.

14. Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie.

15. En hulle het sy insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die Here hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie.

16. En hulle het al die gebooie van die Here hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde, twee kalwers, gemaak, ja, ’n heilige boomstam gemaak en gebuig voor die hele leër van die hemel en Baäl gedien.

17. En hulle het hul seuns en hul dogters deur die vuur laat deurgaan en met waarsêery omgegaan en voortekens verklaar en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd was in die oë van die Here, om Hom te terg.

18. So het die Here dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen.

19. Selfs Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17