Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:27-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. In die twee-en-vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Peka, die seun van Remália, koning geword oor Israel in Samaría — twintig jaar lank.

28. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.

29. In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.

30. En Hoséa, die seun van Ela, het ’n sameswering gesmee teen Peka, die seun van Remália, en hom verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword, in die twintigste jaar van Jotam, die seun van Ussía.

31. En die verdere geskiedenis van Peka en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

32. IN die tweede jaar van Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, het Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, koning geword.

33. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jerúsa, die dogter van Sadok.

34. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here; net soos sy vader Ussía gedoen het, het hy gedoen.

35. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan; dit is hy wat die Boonste Poort van die huis van die Here gebou het.

36. En die verdere geskiedenis van Jotam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

37. In dié dae het die Here Resin, die koning van Aram, en Peka, die seun van Remália, teen Juda begin stuur.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15