Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:14-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Daarna het Menáhem, die seun van Gadi, van Tirsa opgetrek en in Samaría gekom en Sallum, die seun van Jabes, in Samaría verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.

15. En die verdere geskiedenis van Sallum en sy sameswering wat hy gesmee het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

16. Toe het Menáhem Tifsag verslaan met almal wat daarin was, en die grondgebied daarvan, van Tirsa af; omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; hy het dit verslaan en al die swanger vroue daarvan laat oopsny.

17. In die negen-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Menáhem, die seun van Gadi, koning oor Israel geword in Samaría — tien jaar lank.

18. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het al sy dae nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.

19. Pul, die koning van Assirië, het die land oorval, en Menáhem het aan Pul duisend talente silwer gegee, dat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk.

20. En Menáhem het oor Israel, al die persone van vermoë, die geld verdeel om dit aan die koning van Assirië te gee: vyftig sikkels silwer vir elke man; toe het die koning van Assirië omgedraai en nie daar in die land gebly nie.

21. En die verdere geskiedenis van Menáhem en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

22. En Menáhem het ontslaap met sy vaders, en sy seun Pekáhia het in sy plek koning geword.

23. In die vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Pekáhia, die seun van Menáhem, koning oor Israel geword in Samaría — twee jaar lank.

24. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.

25. En Peka, die seun van Remália, sy adjudant, het ’n sameswering teen hom gesmee en hom in Samaría in die vesting van die koning se huis verslaan saam met Argob en met Arje; en vyftig man uit die kinders van die Gileadiete was saam met hom; en hy het hom gedood en in sy plek koning geword.

26. En die verdere geskiedenis van Pekáhia en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15