Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die tweede jaar van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, het Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, koning geword.

2. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan van Jerusalem.

3. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, hoewel nie soos sy vader Dawid nie; net soos sy vader Joas gedoen het, het hy gedoen.

4. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.

5. En sodra die koningskap in sy hand bevestig was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, omgebring.

6. Maar die kinders van die moordenaars het hy nie laat doodmaak nie, soos geskrywe is in die wetboek van Moses, waar die Here dít beveel het: Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterwe.

7. Hý het die Edomiete in die Soutdal verslaan, tienduisend man, en Sela in die oorlog verower en dit Jókteël genoem, tot vandag toe.

8. Toe stuur Amásia boodskappers na Joas, die seun van Jóahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar se aangesig sien.

9. Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.

10. U het inderdaad die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig; geniet die eer en bly tuis. Waarom wil u u tog in die ongeluk stort, dat u sou val, u en Juda saam met u?

11. Maar Amásia het nie geluister nie. Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hy en Amásia, die koning van Juda, het mekaar se aangesig gesien by Bet-Semes wat aan Juda behoort.

12. En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug elkeen na sy tente toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14