Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die drie-en-twintigste jaar van Joas, die seun van Ahásia, die koning van Juda, het Jóahas, die seun van Jehu, koning geword oor Israel in Samaría — sewentien jaar lank.

2. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en agter die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aan geloop; hy het daar nie van afgewyk nie.

3. Daarom het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, sodat Hy hulle oorgegee het in die hand van Hásael, die koning van Aram, en in die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, al die dae.

4. Maar Jóahas het die aangesig van die Here om genade gesmeek. Toe verhoor die Here hom, want Hy het die verdrukking van Israel gesien, dat die koning van Aram hulle verdruk.

5. (Die Here het aan Israel ’n verlosser gegee, sodat hulle onder die mag van Aram uitgekom het en die kinders van Israel in hul tente kon woon soos gister en eergister.

6. Nogtans het hulle nie afgewyk van die sondes van die huis van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie; hy het daarin gewandel, en selfs die heilige boomstam het in Samaría bly staan.)

7. Voorwaar, hy het vir Jóahas geen manskappe laat oorbly nie, as net vyftig perderuiters en tien strydwaens en tienduisend voetgangers; want die koning van Aram het hulle omgebring en hulle gemaak soos stof as gedors word.

8. En die verdere geskiedenis van Jóahas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

9. En Jóahas het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Joas het in sy plek koning geword.

10. In die sewen-en-dertigste jaar van Joas, die koning van Juda, het Joas, die seun van Jóahas, koning geword oor Israel in Samaría — sestien jaar lank.

11. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie; hy het daarin gewandel.

12. En die verdere geskiedenis van Joas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 13