Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:16-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. en gesê: Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die Here. En hulle het hom op sy wa laat ry.

17. En toe hy in Samaría aankom, het hy almal omgebring wat van Agab in Samaría oor was, totdat hy hom verdelg het volgens die woord van die Here wat Hy tot Elía gespreek het.

18. En Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Agab het Baäl ’n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien.

19. Roep dan nou al die profete van Baäl, al sy dienaars en al sy priesters na my toe; niemand moet gemis word nie, want ek het ’n groot offer aan Baäl. Elkeen wat gemis word, sal nie leef nie. Maar Jehu het dit met lis gedoen om die dienaars van Baäl te kan vernietig.

20. Verder sê Jehu: Heilig ’n feestyd vir Baäl; en hulle het dit uitgeroep.

21. Jehu het ook deur die hele Israel gestuur; en al die dienaars van Baäl het gekom — sodat daar niemand oor was wat nie gekom het nie — en in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel van Baäl vol was van end tot end.

22. En hy sê aan die een wat oor die klerekamer was: Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl. En hy het vir hulle klere uitgebring.

23. Daarop gaan Jehu saam met Jónadab, die seun van Regab, in die tempel van Baäl in en sê aan die dienaars van Baäl: Ondersoek en kyk of nie miskien van die dienaars van die Here hier by julle is nie, net die dienaars van Baäl alleen.

24. En hulle het ingegaan om slagoffers en brandoffers toe te berei; maar Jehu het vir hom buitekant tagtig man opgestel en gesê: Hy wat een van die manne wat ek in julle hande lewer, laat vryraak, sy lewe sal in die plek van dié se lewe wees.

25. En toe hy gereed was met die aanbieding van die brandoffer, sê Jehu aan die hardlopers en die adjudante: Kom in, slaan hulle dood, laat niemand uitkom nie! En hulle het hul met die skerpte van die swaard doodgeslaan, en die hardlopers en die adjudante het hulle uitgegooi en na die stadsdeel van die Baälstempel gegaan.

26. En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand

27. en die klippilaar van Baäl afgebreek en Baäl se tempel afgebreek en daar gemakhuisies van gemaak, tot vandag toe.

28. So het Jehu dan Baäl uit Israel uit verdelg.

29. MAAR die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het — daar het Jehu nie van afgewyk nie, van die goue kalwers wat in Bet-el en in Dan was.

30. Toe sê die Here vir Jehu: Omdat jy goed gehandel het deur te doen wat reg is in my oë — volgens alles wat in my hart was, aan die huis van Agab gedoen het — sal jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.

31. Maar Jehu het nie sorgvuldig in die wet van die Here, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie.

32. In dié dae het die Here Israel begin inkort, en Hásael het hulle in die hele gebied van Israel verslaan:

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10