Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:8-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En Dawid het die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal? En Hy sê vir hom: Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.

9. Daarop het Dawid weggetrek, hy met die seshonderd man wat by hom was; en toe hulle by die spruit Besor kom, het die origes agtergebly.

10. Dawid het naamlik agtervolg, hy met vierhonderd man, terwyl tweehonderd man agtergebly het wat te moeg was om die spruit Besor deur te trek.

11. Toe vind hulle in die veld ’n Egiptenaar wat hulle na Dawid bring, en hulle gee hom brood om te eet en water om te drink.

12. Daarby gee hulle hom ’n stuk vyekoek en twee rosynekoeke. En toe hy geëet het, het hy weer bygekom; want hy het drie dae en drie nagte geen brood geëet of water gedrink nie.

13. En Dawid vra hom: Aan wie behoort jy? En waar kom jy vandaan? En hy sê: Ek is ’n Egiptiese seun, die slaaf van ’n Amalekitiese man, en my heer het my laat agterbly, omdat ek drie dae gelede siek geword het.

14. Ons het ’n inval gedoen in die Suidland van die Kretiërs en in dié van Juda en in die Suidland van Kaleb, en Siklag met vuur verbrand.

15. En Dawid vra hom: Sal jy my afbring na hierdie bende? En hy sê: Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my heer nie; dan sal ek u afbring na hierdie bende.

16. En toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het.

17. En Dawid het hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag, sodat niemand van hulle vrygeraak het nie, behalwe vierhonderd jongmanne wat op kamele gespring en gevlug het.

18. So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem het; ook sy twee vroue het Dawid bevry.

19. Niks van hulle is vermis nie — klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30