Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het,

7. en hy het aan sy manne gesê: Mag die Here my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die Here, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die Here.

8. En Dawid het sy manne streng bestraf en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie. En Saul het uit die spelonk uit opgestaan en sy koers gegaan.

9. Daarna staan Dawid ook op en gaan uit die spelonk uit en roep agter Saul aan en sê: My heer die koning! Toe Saul agter hom omkyk, buig Dawid met sy aangesig na die aarde toe en val neer.

10. En Dawid sê vir Saul: Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil?

11. Kyk, vandag sien u eie oë dat die Here u vandag in die spelonk in my hand gegee het; en hulle het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u verskoon en gesê: Ek sal my hand nie uitsteek teen my heer nie, want hy is die gesalfde van die Here.

12. En kyk, my vader, ja, kyk die slip van u mantel in my hand! Want toe ek die slip van u mantel afgesny het, het ek u nie gedood nie. Erken en sien dat daar by my geen kwaad of oortreding is en ek nie teen u gesondig het nie, alhoewel u op my lewe loer om dit weg te neem.

13. Die Here sal oordeel tussen my en u, en die Here sal my aan u wreek; maar my hand sal teen u nie wees nie.

14. Soos die spreekwoord van die voorvaders sê: Uit die goddelose gaan goddeloosheid uit. Maar my hand sal nie teen u wees nie.

15. Agter wie aan het die koning van Israel uitgetrek? Agter wie kom u aangejaag? Agter ’n dooie hond, agter een enkele vlooi aan!

16. Maar die Here sal regter wees en oordeel tussen my en u. Ja, mag Hy toesien en my saak verdedig en aan my reg verskaf teenoor u.

17. Toe Dawid hierdie woorde ten einde toe tot Saul gespreek het, sê Saul: Is dit jou stem, my seun Dawid? En Saul het sy stem verhef en geween

18. en aan Dawid gesê: Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24