Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:13-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Daarop neem Migal die huisgod en lê dit op die bed neer, en sy sit die net van bokhaar aan sy koppenent en bedek dit met ’n kombers.

14. Toe Saul dan boodskappers stuur om Dawid te gaan haal, sê sy: Hy is siek.

15. Daarop stuur Saul die boodskappers om Dawid te besoek met die opdrag: Bring hom met bed en al na my toe, dat ek hom kan ombring.

16. Toe die boodskappers inkom, lê die huisgod daar op die bed en die net van bokhaar aan sy koppenent!

17. En Saul sê vir Migal: Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan, sodat hy vrygekom het? Maar Migal het Saul geantwoord: Hy het vir my gesê: Laat my gaan, of ek maak jou dood.

18. Intussen het Dawid gevlug en vrygeraak en by Samuel in Rama gekom en hom meegedeel alles wat Saul hom aangedoen het. Toe het hy saam met Samuel weggegaan, en hulle het in Najot gebly.

19. En aan Saul is meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in Najot by Rama.

20. Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid te gaan haal. Maar toe hulle die skare profete sien profeteer, met Samuel as leier aan hulle hoof, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, sodat hulle ook geprofeteer het.

21. Toe hulle dit aan Saul meedeel, het hy ander boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer; en Saul het die derde keer weer boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer.

22. En hy het self ook na Rama gegaan en by die groot put gekom wat by Segu is, en gevra en gesê: Waar is Samuel en Dawid? En hulle antwoord: Daar in Najot by Rama.

23. Hierop gaan hy daarheen, na Najot by Rama; en die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het.

24. Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag. Daarom sê hulle: Is Saul ook onder die profete?

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19