Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 18:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee.

12. En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die Here met hom was en van Saul gewyk het.

13. Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het.

14. EN Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die Here was met hom.

15. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword.

16. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit- en ingegaan.

17. Verder het Saul vir Dawid gesê: Hier is my oudste dogter Merab, haar sal ek aan jou as vrou gee; wees net vir my ’n dapper man en voer die oorloë van die Here. Want Saul het gedink: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.

18. Maar Dawid het vir Saul gesê: Wie is ek, en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek ’n skoonseun van die koning sou word?

19. Maar teen die tyd dat Merab, die dogter van Saul, aan Dawid moes gegee word, is sy aan Ádriël, die Meholatiet, as vrou gegee.

20. Maar Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgekry; en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg.

21. Want Saul het gedink: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom ’n strik kan wees en dat die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom het Saul vir Dawid gesê: Vir die tweede keer kan jy vandag my skoonseun word!

22. En Saul het sy dienaars bevel gegee: Spreek met Dawid in die geheim en sê: Kyk, die koning hou van jou, en al sy dienaars het jou lief: word nou maar die koning se skoonseun.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 18