Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ’n man uit, dat hy na my toe afkom.

9. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.

10. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg.

11. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.

12. En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.

13. Maar die drie oudste seuns van Ísai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma.

14. Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het.

15. En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas.

16. En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank.

17. Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers’n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe.

18. Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ’n pand saambring.

19. En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom.

20. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17