Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:33-51 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. Toe daar aan Saul geboodskap is: Kyk, die manskappe besondig hulle teen die Here deur met bloed en al te eet, het hy gesê: Julle handel troueloos; rol nou ’n groot klip na my toe.

34. Verder het Saul gesê: Versprei julle onder die manskappe en sê aan hulle: Bring na my elkeen sy bees en elkeen sy stuk kleinvee, en slag dit hier en eet; maar besondig julle nie teen die Here deur met bloed en al te eet nie. En al die manskappe het elkeen in die nag sy bees met sy hand gebring en dit daar geslag.

35. En Saul het vir die Here ’n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir die Here gebou het.

36. Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan, en laat ons onder hulle plunder totdat dit môre lig word; en ons moet nie een onder hulle laat oorbly nie. En hulle antwoord: Doen alles wat goed is in u oë. Maar die priester het gesê: Laat ons hier tot God nader.

37. Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie.

38. En Saul sê: Kom nader hierheen, al die hoofde van die volk, en ondersoek en kyk waarin hierdie sonde vandag begaan is.

39. Want so waar as die Here leef wat Israel verlos, al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe! Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie.

40. Daarop sê hy aan die hele Israel: Julle moet eenkant staan, en ek en my seun Jónatan sal eenkant staan. En die manskappe antwoord Saul: Doen wat goed is in u oë.

41. Toe sê Saul aan die Here: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan.

42. En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys.

43. Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.

44. Toe sê Saul: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jónatan!

45. Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie.

46. Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.

47. SO het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.

48. En hy het hom dapper gedra: hy het Ámalek verslaan en Israel gered uit die hand van sy berower.

49. En die seuns van Saul was Jónatan en Jiswi en Malkisúa, en die naam van sy twee dogters: die naam van die oudste was Merab, en die naam van die jongste Migal.

50. En die naam van Saul se vrou was Ahínoam, ’n dogter van Ahímaäs; en die naam van sy leërowerste was Abner, die seun van Ner, die oom van Saul.

51. En Kis was die vader van Saul, en Ner, die vader van Abner, was die seun van Abíël.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14