Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:24-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. en die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie.

25. En al die mense het in ’n bos gekom, en daar was heuning op die veld.

26. Toe die manskappe in die bos kom, was daar oorvloed van heuning; maar niemand het met sy hand aan sy mond geraak nie, omdat die manskappe bevrees was vir die eed.

27. Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die manskappe besweer het nie en het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ’n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword.

28. Daarop spreek een van die manskappe hom aan en sê: Jou vader het die manskappe met hierdie dure eed besweer: Vervloek is die man wat vandag iets eet. Daarom is die volk afgemat.

29. En Jónatan sê: My vader stort die land in die ongeluk; kyk tog hoe helder my oë nou is, omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het.

30. Hoeveel te meer as die manskappe vandag vry kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het! Maar nou is die slagting onder die Filistyne nie groot nie.

31. Maar dié dag het hulle die Filistyne verslaan van Migmas af na Ájalon toe, en die manskappe was baie afgemat.

32. En die manskappe het op die buit afgestorm, en kleinvee en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die manskappe het dit met bloed en al geëet.

33. Toe daar aan Saul geboodskap is: Kyk, die manskappe besondig hulle teen die Here deur met bloed en al te eet, het hy gesê: Julle handel troueloos; rol nou ’n groot klip na my toe.

34. Verder het Saul gesê: Versprei julle onder die manskappe en sê aan hulle: Bring na my elkeen sy bees en elkeen sy stuk kleinvee, en slag dit hier en eet; maar besondig julle nie teen die Here deur met bloed en al te eet nie. En al die manskappe het elkeen in die nag sy bees met sy hand gebring en dit daar geslag.

35. En Saul het vir die Here ’n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir die Here gebou het.

36. Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan, en laat ons onder hulle plunder totdat dit môre lig word; en ons moet nie een onder hulle laat oorbly nie. En hulle antwoord: Doen alles wat goed is in u oë. Maar die priester het gesê: Laat ons hier tot God nader.

37. Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie.

38. En Saul sê: Kom nader hierheen, al die hoofde van die volk, en ondersoek en kyk waarin hierdie sonde vandag begaan is.

39. Want so waar as die Here leef wat Israel verlos, al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe! Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie.

40. Daarop sê hy aan die hele Israel: Julle moet eenkant staan, en ek en my seun Jónatan sal eenkant staan. En die manskappe antwoord Saul: Doen wat goed is in u oë.

41. Toe sê Saul aan die Here: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan.

42. En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys.

43. Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14